news

ALBERT FROST

October 15, 2019

’n Vriendelike stem oor die foon belowe ’n vars pot koffie en beskuit tussendeur aanwysings na ’n plaashuis, snoesig weggesteek in die middel van die Winterhoek-berge. Met die aankoms wag twee jonger weergawes van Albert Frost saam met Ouma op die trap. Bella is ses jaar oud en Frankie vier. Nie juis die tuiste wat jy outomaties sou assosieer met ’n rock ‘n’ roller wat al van 15-jarige ouderdom af Suid-Afrikaanse skares se asems wegslaan met sy kitaarvernuf nie.

Terwyl die vingers – wat die kitaar laat sing het op albums soos Catfish en Devils & Gods – ’n netjiese vlegsel op sy oudste saamslaan, vertel Frost oor sy Japanees-gemaakte esdoringhout-Fender Telecaster en hoe dit beland het op Tulbagh in ’n plaashuis vol esels, kitare en kinders.

“Ek moes net my kop kom skoon kry. In Johannesburg het ons in ’n huis gebly waar daar elke aand spontaan ’n gekuier ontstaan het. En ek moes besluit waarop ek my aandag gaan fokus. Toe ek saam met my pa in die Blues Broers begin speel het, het hy my uit ondervinding gewaarsku oor die gevare wat gepaard gaan met die rock ‘n’ roll-leefstyl.” Albert lig vir Bella, met haar nuwe vlegsel, van sy skoot af op en skiet sy laaste sopie koffie die tuin in. Hy glimlag, “Ek het natuurlik nie altyd geluister nie.” 

“Ek het wel geluister toe my pa in 1989 die Eric Clapton-konsert in Swaziland bygewoon het. Ek het toe net begin kitaar speel en dié konsert het my geweldig geïnspireer. Vyf jaar daarna het Rob Nagel van die Blues Broers hierdie Fender Telecaster vir my geleen omdat ek nie self ’n goeie kitaar kon bekostig nie en later gesê dat ek dit maar kon kry.” Hy tel die kitaar op. “Wat ek hou van hierdie kitaar is dat dit die mees basiese elektriese kitaar is wat ’n mens kry. Hulle noem dit: The Plank. Dit forseer jou om kreatief te wees en die klank wat daaruit kom op jou eie manier te vervorm.” Hy glimlag. “Hierdie Fender se klank sny deur enigiets.”

Met die kitaar in sy hand vertel hy hoe hy al vir vier jaar nugter terugbestuur van optredes af en hoe hy nou noukeurig sy weeksdae skeduleer en sy tyd slegs afstaan aan spesifieke projekte. Arno Carstens, Piet Botha, Valiant Swart, Dan Patlansky en die Blues Broers, is net ’n paar van die grotes wat deel in sy rou kitaartalent.

Sy jongste, Frankie, kom klou vir dood aan haar pa se broekspyp. “This is rock ‘n’ roll in all it’s glory!” spotlag Frost en vryf die kleinding se kop. Ons loop uit, verby ’n platespeler waarop ’n Led Zeppelin-plaat draai, Frankie steeds aan die been. Dit is hier op Tulbagh, in ‘n plaashuis met twee kinders, ’n ouma en ’n Fender Telecaster, waar die blues nog rou en eerlik die storie van Albert Frost vertel.

Albert Frost